Beeld Kalender, November 25 1992
Alan Alborough sê baie met min
By Lucia Burger

Die konseptuele ondervinding begin reeds met die intrapslag in die heerlik intieme ruimtes van die kontroversieel-opwindende Read-kunssaal. Die bekende vorm en kleur van seep - Lux en Lifebuoy - vorm die vertrek- en instellingspunt in die werk van die kunstenaar Alan Alborough.

Met kliniese presisie maak hy samestellings wat internasionaal verklaarbaar is, maar met sterk Suid-Afrikaanse kommentaar.

Die Lux-en-Lifebuoy werk, The Gardener and the Madam, is 'n herinnering aan 'n werklikheid waarmee ons daagliks to make het. Met die installasie konfronteer Alborough die ongemak, onrus en verwarring wat die sosiale werklikheid van "wat is" en "wat was" distileer.

Hy maak gebruik van onverwagte kombinasies van inhoud en materiaal - glas, staal, koekies seep, papier en hout. In 'n Suid-Afrikaanse konteks spreek die kunswerke van oneweredighede en onopgeloste sosio-politieke probleme en werklikhede, en gebruik die kunstenaar visuele en konseptuele elemente om die konteks to bevestig.

Esteties is die werk bevredigend, op 'n formele vlak verantwoordbaar - foutlose samestellings van subtiele kleur, tekstuur, vorm en lyn.

Die "installasie" is gegrond op kinderspeletjies wat met ironie werklikhede inskerp. Nulletjies en kruisies, Eye Spy, Hangman en ander bekende kindervermaak is herkenbaar, maar word verwerk deur middel van byvoeging van woorde en simbole in die kunswerke, as titels en ook op die vloer.

Binne die raamwerk lê die verwaring van die hede: Eye Spy/What the Eye Saw beeld teenstellings uit - skerp/stomp, skoon/vuil, warm/koud, sag/hard - begrippe wat op verskeie maniere geïnterpreteer kan word.

Die denke van jong avant-garde kunstenaars wat hulself internasionaal laat geld, is gevestig in die konseptuele kuns, die abstrakte, die figuratiewe en die Neo-ekspressionisme. Die skeidslyn tussen voorwerpe, beeldhouwerk, skilderye en nuwe tegnieke verdwyn en dit word al hoe moeiliker om te onderskei tussen 'n skildery en 'n beeldhouwerk.

Die grondslag vir hierdie denke van die jare negentig kan gesoek word in die filosofie van kunstenaars soos Andy Warhol, Joseph Beuys en dan ook Duchamp. Hierdie feite kan gevind word in die beklemtoning van materiale. Alborough gebruik seep, glas en handgemaakte papier - almal sterk verwysings binne 'n Suid-Afrikaanse konteks, soos Beuys hom gekeer het tot vet en vilt.

Soos Warhol gebruik Alborough sy elemente ekonomies, maar maak daardeur wye feitelike stellings wat die stand van sake in ons onsekere hede beklemtoon.